Motata dien hofaansoek in om weer as regter op te tree

Die foto van Nkola Motata is geneem kort nadat hy in Januarie 2007 onder die invloed van alkohol bestuur het en deur die tuinmuur van 'n huis in Sandton gebars het.

Die omstrede Nkola Motata, wat skuldig bevind is aan dronkbestuur, het ʼn hofaansoek ingedien om weer as regter op te tree.

Die burgerregte groep AfriForum sê hofstukke is die week by AfriForum, die minister van justisie en die Regterlike Dienskommissie afgelewer. AfriForum sê in sy hofaansoek beweer Motata dat dit onbillik is dat hy van die reg ontneem word om as regter op te tree. Motata versoek die Noord-Gautengse hooggeregshof om ʼn bevel uit te reik waarvolgens hy toegelaat word om weer as regter op te tree. Motata het in Januarie 2007 onder die invloed van alkohol bestuur en deur die tuinmuur van ’n huis in Sandton gebars. Hy is in September 2009 in die Johannesburgse landdroshof skuldig bevind aan dronkbestuur en tot 12 maande tronkstraf of ’n boete van R20 000 gevonnis. Volgens AfriForum is daar destyds selfoonfoto’s van ʼn sigbaar besope Motata geneem. AfriForum het Motata aangekla nadat hy glo rassistiese opmerkings teenoor die eienaar van die huis en ander omstanders gemaak het. Die beeldmateriaal is in die verhoor van Motata gebruik en het tot sy skuldigbevinding gelei. AfriForum sê hy sal Motata se hofaansoek teenstaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.