
Adjunk-president Kgalema Motlanthe
Adjunkpresident Kgalema Motlanthe het sy nominasie om tot president van die ANC verkies te word, aanvaar.
“Die adjunkpresident is deur die verkiesingskommissie van die ANC ingelig dat hy vir drie posisies genomineer is, naamlik as president, adjunkpresident en addisionele lid [van die nasionale uitvoerende komitee],” het Thabo Masebe, woordvoerder vir Motlanthe, Donderdag gesê. “Hy het die verkiesingskommissie laat weet dat hy die nominasies aanvaar.”
Motlanthe het sy besluit glo reeds Dinsdag aan die kommissie bekendgemaak.
Die ANC wou Donderdag tydens ʼn perskonferensie by Luthuli House nie die name van diegene bekendmaak wat nominasies voor die ANC se verkiesingskonferensie by Mangaung aanvaar het nie. Die verkiesingskonferensie begin Sondag.