Motorfietsryer dink polisie daag hom uit

Argieffoto

Twee mans is Saterdag vir spoedoortredings in Gauteng in hegtenis geneem.

“’n 35-jarige motorfietsryer het teen 205 km/h op sy blou Suzuki Hayabusa op die R21 naby die R25-afrit gejaag,” het Busaphi Nxumalu, woordvoerder van die verkeerspolisie in Gauteng, gesê. “Hy beweer hy het gedink die beampte van die hoëspoed-eenheid wou hom uitdaag,” het Nxumalu bygevoeg. “Volgens die beampte het die bestuurder van die motorfiets nie eers besef dat hulle hom agtervolg nie. Hy het eers die voertuig raakgesien toe hulle die blou ligte en sirene aangeskakel het.”

In ‘n ander voorval is ‘n 34-jarige ingenieur in hegtenis geneem nadat hy glo teen 201 km/h met sy splinternuwe Porsche Carrera gejaag het. Die man wou die polisie ontvlug, maar is naby die N1-snelweg afgetrek.

Beide mans is na die polisiestasie in Olifantsfontein geneem waar hulle van roekelose bestuur en spoedoortreding aangekla is. Die motorfietsryer is op R1 500 borg vrygelaat, en die tweede man sal later vrygelaat word. Albei sal na verwagting binnekort in die landdroshof in Tembisa verskyn.

‘n Totaal vna 24 motoriste is tot dusver dié naweek deur die Gautengse verkeerspolisie in hegtenis geneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.