Motorfietsryer dood ná ongeluk teen 480km/h

Bill Warner

‘n Foto van Bill Warner op sy motorfiets verskyn onderaan die berig. ʼn Motorfietsryer, wat as “die vinnigste man op twee wiele” bekend staan, is Sondag dood nadat hy ʼn ongeluk teen ongeveer 480km/h gemaak het.

Bill Warner (44) het gepoog om sy eie rekord by ʼn toetslopie in Limestone, Maine in Amerika vir die vinnigste spoed op ʼn gewone motorfiets te breek.

Beamptes sê nooddienspersoneel het hulle reeds na die toneel gehaas voordat Warner sowat 300m van sy motorfiets af tot stilstand gekom het. Warner het op ʼn Suzuki Hayabusa-motorfiets gery.

Hy was net ná die ongeluk nog by sy bewussyn, maar het in die Cary Medical Centre aan sy beserings beswyk.

Die toetslopie is op ʼn 4km stuk teerpad by die voormalige Loring-lugmagbasis gehou. Warner het gepoog om binne ʼn afstand van een myl (1.6km) 300 myl per uur (482km/h) te haal, maar die ongeluk het sowat 1.2km van die wegspring af plaasgevind.

“Iets het skeefgeloop en hy het beheer oor die motorfiets verloor,” het Tim Kelly, direkteur van die wedren, gesê.

Plaaslike owerhede ondersoek die voorval.

Kelly sê dit is die tweede ongeluk in agt geleenthede wat by dié lugmagbasis gehou word, maar die eerste noodlottige ongeluk. ʼn Vroulike motorfietsryer het tydens ʼn vorige geleentheid ʼn ongeluk gemaak teen 339km/h, maar het met geringe beserings van die toneel af weggestap.

Deelnemers dra leeruitrustings, stewels en valhelms wat spesiaal vir spoed ontwerp word. “Selfs wanneer ongelukke gebeur, stap motorfietsryers gewoonlik ongedeerd daarvan af weg. Dit het ongelukkig nie dié keer gebeur nie,” het Kelly gesê.

Bill Warner op sy motorfiets

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

MIEMMIE ·

NOU JA DAAR HET JY DIT – AS JY BO MENSLIKE DINGE WIL DOEN EN DALK NET IN EEN OF ANDER BOEK GEPUBLISEER GAAN WORD DAT JY DIT REGGEKRY HET – DAN HET EK OOK MAAR NIE GENADE NIE – WAT NOU VAN DIE WAT AGTER BLY VRA EK MYSELF

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.