ʼn Motorfietsryer is Vrydagoggend in North Riding in Johannesburg doodgeskiet tydens ʼn vermeende padwoedevoorval.
“Die motorfietsryer is net na 07:00 in Malibongwerylaan doodgeskiet,” het Edna Mamonyane, ʼn woordvoerder van die Johannesburgse metropolisie, aan Maroela Media gesê. Mamonyane het bevestig dat die motorfietsryer ʼn 44-jarige man in ʼn sedan by die Bounderyweg-kruising gekonfronteer het en dat albei mans gewapen was.
“Die man in die sedan het vermoedelik die motorfietsryer net daar doodgeskiet en is ook in die proses gewond.” Sy het gesê dit is in die stadium nog nie bekend op die motorfietsryer op die bestuurder geskiet het nie. Dit is ook nog nie duidelik waaroor die mans baklei het nie, en dit vorm deel van die polisie se ondersoek.
Santi Steinmann, ʼn woordvoerder van Netcare 911, het gesê die bestuurder van die sedan is in ʼn ernstige toestand aangetref. “Hy is op die toneel gestabiliseer en na ʼn nabygeleë hospitaal geneem vir verdere behandeling,” het sy gesê.
Volgens Mamonyane is die man onder die polisie se toesig. Die polisie en metropolisie was teen 10:00 nog op die toneel.