Motoris doodgeslaan na hy vrou, kind omry

ʼn Man het homself Woensdag aan die polisie oorgegee nadat ʼn motoris in Johannesburg doodgeslaan is.

Ao. Daniel Mavimbela, ʼn polisiewoordvoerder, sê die 26-jarige man sal na verwagting Vrydag in die hof verskyn. Die man het glo die bestuurder van ʼn afleweringsvoertuig geslaan en met klippe bestook nadat hy glo Sondagaand ʼn vrou en haar kleinkind omgery het in Diepsloot, noord van Johannesburg. Hulle is na ‘n hospitaal geneem vir verdere behandeling. Die bestuurder het glo van die toneel probeer vlug waarna twee mans hom uit die motor getrek, met klippe bestook en hom geskop en geslaan het. Die polisie het by die toneel opgedaag toe die man glo die bestuurder aan die brand wou steek. Mavimbela sê die 51-jarige bestuurder is na die Tembisa-hospitaal geneem waar hy aan sy beserings beswyk het. Die man wat homself aan die polisie oorgegee het word aangekla van moord en kwaadwillige saakbeskadiging. Die polisie soek steeds na sy beweerde medepligtige.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.