Motoriste stroom na vulstasies

Vulstasies regoor die land word oorval met motoriste wat wil volmaak voor die petrolprys vanaand om middernag die hoogte inskiet.

Die kleinhandelprys van petrol (93- en 95-oktaan) styg ná middernag met 93c per liter, wat die petrolprys naby R12 sal bring.

Daar is aanvanklik ʼn styging van sowat 89c verwag. Paul Joubert, ʼn senior navorser by Solidariteit, sê dié ietwat hoër as verwagte styging is te wyte daaraan dat die kleinhandelswinsmarge op petrol opwaarts aangepas is met 3,5c per liter. Dit is gedoen om eienaars van vulstasies in staat te stel om hul werknemers se hoër vergoeding, soos deur die departement van arbeid voorgeskryf, te kan betaal.

“Daar kan nie vooraf voorspel word presies wanneer sulke aanpassings van die winsmarges gemaak sal word nie, aangesien dit onafhanklik van internasionale petroleumprodukpryse en die rand/dollar-wisselkoers gebeur,” het Joubert gesê.

Die prys van 93-oktaan petrol in Gauteng sal nou R11,76 per liter wees.
Die prys van 95-oktaan petrol in Gauteng sal nou R11,97 per liter wees.
Die prys van 95-oktaan petrol aan die kus sal nou R11,62 per liter wees.

Albei grade diesel se groothandelprys styg met 69c per liter. “Hierdie styging is een sent meer as wat verwag is, aangesien die afronding van die prys weens tegniese redes na bo gedoen is in plaas van na onder,” het Joubert gesê.

Die groothandelprys van 0,05%-swawelinhoud diesel in Gauteng sal nou R10,9459 per liter wees. Die groothandelprys van 0,005%-swawelinhoud diesel in Gauteng sal nou R11,0099 per liter wees. “Die kleinhandelprys van diesel word nie gereguleer nie en die pryse kan dus verskillend wees by elke vulstasie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.