Motorkapings neem skerp toe tydens afsonderingstydperk

Argieffoto

Die aantal motorkapings in Suid-Afrika het toegeneem gedurende die algehele landwye afsondering en is nou meer algemeen as motordiefstal.

Hoewel motorkapers enige tyd kan toeslaan, blyk dit ook nou dat daar ʼn verskuiwing plaasgevind het in die spesifieke dae en tydstip waartydens motorkapings aangemeld word. Sekere stede of dorpe loop ook meer deur as ander.

Só het die voertuigopsporingsmaatskappy Tracker in sy jongste indeks oor voertuigmisdaadstatistieke verduidelik. Dié statistieke is gegrond op die meer as 1,1 miljoen motors wat Tracker se opsporingstelsels geïnstalleer het.

Luidens die indeks het die aantal voorvalle van voertuigmisdaad voor die instel van die algehele landwye afsondering oor die land sowat 11% jaarliks gestyg. Dié toename was hoofsaaklik weens motorkapings wat jaarliks met sowat 21% gestyg het.

Motordiefstal het egter nie toegeneem of afgeneem sedert die vorige jaar nie.

“Die afsonderingstydperk het ʼn buitengewone reeks omstandighede teweeggebring en die klein aantal voertuigmisdaadgetalle wat ons gedurende vlak 5 van afsondering gesien het, het ons dekades laas beleef,” sê Tracker in ʼn verklaring.

Volgens dié maatskappy se statistieke het die aantal voorvalle van voertuigmisdaad in April kort ná die instel van die algehele landwye afsondering oor die land gedaal tot slegs 19% van die gemiddelde maandelikse voertuigmisdaadaktiwiteite.

Misdaad van dié aard het egter weer begin toeneem namate die land se afsonderingsregulasies opgehef is, dermate dat die land in Mei drie keer meer voertuigmisdaadaktiwiteite beleef het (62% van die normale misdaadkoers).

Dié misdrywe het in Junie byna weer die normale vlak van voertuigmisdaadaktiwiteite as vóór die afsonderingstydperk bereik, oftewel 93%.

Tracker verduidelik dat motorkapings meer algemeen is as motordiefstal gedurende die algehele landwye afsondering. Kapings maak 56% van voorvalle uit wat aangemeld word, terwyl motordiefstal 44% uitmaak.

“Drie maande voor die instel van die afsonderingstydperk is ewe veel kapings as motordiefstal aangemeld. Verlede jaar is daar meer diefstal as kapings aangemeld.”

Dís wanneer kapings plaasvind

Volgens Tracker dui die jongste gegewens daarop dat motorkapings nou geneig is om meer gereeld vanaf Dinsdae tot Saterdae plaas te vind.

“Kapings word ook die hele dag van 11:00 tot 24:00 by Tracker aangemeld. Diefstal word hoofsaaklik oor die naweek en oor middagete aangemeld.”

Luidens die indeks beleef Gauteng, in die besonder Johannesburg, steeds die meeste voertuigmisdaadaktiwiteite, gevolg deur KwaZulu-Natal, veral in Durban.

In die Wes-Kaap word motorkapings hoofsaaklik in Mitchells Plain aangemeld.

Ander brandpunte wat motorkapings betref, sluit in: eMalahleni (Witbank) in Mpumalanga, Rustenburg in Noordwes, Burgersfort in Limpopo en Bloemfontein in die Vrystaat.

“Met die jongste statistieke wat daarop dui dat motorkapings op enige dag van die week en op enige tydstip kan plaasvind, is dit duidelik dat misdadigers voordeel trek uit opportunistiese situasies en dit is daarom noodsaaklik om altyd waaksaam te wees,” sê Ron Knott-Craig, uitvoerende hoof van operasionele dienste by Tracker Suid-Afrika.

“Maak seker dat jou voertuigopsporingstoestel in werkende toestand is en maak gebruik van die funksies wat jou voertuigopsporingsdiens bied.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Delon ·

“Maak seker dat jou voertuigopsporingstoestel in werkende toestand is en maak gebruik van die funksies wat jou voertuigopsporingsdiens bied.”

ja ek het tracker en hulle app werk meeste van die tyd nie , jy kry die hele tyd e-mails wat se jou motor het lanklaas beweeg al ry ek amper elke dag met dit

klink my hulle is ook een van die maatskappey wat hulle allies gaan sien

Excalibur ·

Dit bleik dat ons land se wetstoepassing teenmisdaad inteligensiedienste, sekerheid & veiligheidsgroepe en die SANW se inligtings departement nie voldoende inligting uitruil en saamwerk nie en/of in rus is jeens die CV-19 en reaktief optree en nie pro-aktief nie.
Nee-man, mense kom ons die Publiek en jul in jul spesialisvelde werk pro-aktief saam en “name & shame” die wat bedrieg en nie wil saamwerk nie. Die stig en rondbeweging van verskuilde waarnemingsposte op kritiese knelpunte waar oorgrenssmokkel plaasvind met ‘n snelreaksiemag vir arrestasie is nie te versmaai nie en moet aandag geniet. Bogenoemde departemente besit van die beste meeluister, waarneming, inluister, nagsig en CCTV tegnologie wat per “GPS” akuraatheid kan bevestig. Waarom dit nie aanwend in samewerking vir voertuigkapings/smokkelhandel en plaasaanvalle nie en sodoende ook inge-oefen paraat te bly vir landsveiligheid??

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.