Moyo: “Ek sal nie weer ontsnap”

Die foto wys ‘n ‘n stuk oranje uniform wat die gevanges glo gebruik het om oor die muur te klim by die Pretoria Sentraal gevangenis. Foto: Barry Bateman/EWN

Bongani Moyo, ‘n reeksontsnapper en –bankrower, het Dinsdag aan die Pretoria hooggeregshof gesê dat hy nie weer uit aanhouding sal probeer ontsnap nie.

Moyo, ʼn Zimbabwiër, word dikwels beskryf as die “Houdini van Suid-Afrika” aangesien hy al verskeie kere uit polisie-aanhouding ontsnap het. Moyo word tans verhoor nadat hy en twee ander gevangenes in Maart verlede jaar amper uit die Pretoria Sentraal gevangenis ontsnap het. Moyo het Dinsdag aan regter Natvarlal Ranchod gesê dat hy “slegte dinge” gedoen het en dat hy besluit het om die gevolge daarvan te dra. “Ek sal nie weer ontsnap nie. Ek het berou getoon. Elke keer wat ek ontsnap word ek gevang so hoe help dit my?” Moyo is ook gevra om te verduidelik hoekom hy ontsnap het. “Die lewe in die tronk is nie lekker nie. Ek het ontsnap toe ek die hulp van beamptes gehad het.” Moyo het die hof ook vroeër van sy grootwordjare in Bulawayo, Zimbabwe vertel. “Ek is in ʼn baie arm familie gebore. Ek het slegs vir vier jaar ʼn laerskool bygewoon. Ek is deur my pa en stiefma grootgemaak. My pa was ʼn boer. Ek was nie baie skerp op skool nie. Ek het altyd gedruip.” Die saak is tot Woensdag uitgestel.

Verlede jaar se ontsnappingspoging by die Pretoria Sentraal gevangenis het gevolg nadat Moyo, wat glo in besit van ʼn ystersaaglemwas, hulle boeie afgesny het. Hulle het glo die tronkbewaarders oorweldig en een van hulle in die hand gesteek met ʼn skerp voorwerp. ʼn Koerantverkoper voor die tronk het gesien hoe die drie probeer ontsnap en alarm gemaak waarna hulle vasgetrek is. Moyo het in Maart 2011 uit die Boksburg gevangenis ontsnap en is in Mei van dieselfde jaar weer in hegtenis geneem. In Augustus 2011 het hy uit die Pretoria landdroshof ontsnap en is hy weer ʼn maand later in hegtenis geneem. Moyo is tot drie jaar tronkstraf gevonnis vir laasgenoemde ontsnapping. Hy is ook vroeër 14 jaar tronkstraf opgelê in verband met die bankrowe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.