Mpofu mag ná die aanval nog nie vlieg nie

Dali Mpofu

Advokaat Dali Mpofu is deur sy dokters aangeraai om nie te vlieg nie, aangesien hy ‘n longprobleem ná die aanval ontwikkel het.

“Ek is reg om terug te vlieg Johannesburg toe, maar ek word verbied weens ‘n longprobleem,” het Mpofu aan die SAUK gesê.

Mpofu verteenwoordig myners wat verlede jaar in die skietgeveg teen die polisie in Marikana, Noordwes, betrokke was. Hy is Donderdag deur twee mense aangeval en beroof terwyl hy op ‘n strand in Oos-Londen gestap het. Hulle het hom verskeie kere met ‘n mes gesteek.

Sy vrou, Mpumi Mpofu, het vroeër gesê hy is in ‘n stabiele toestand en verbeter daagliks. Sy het bygevoeg dat hulle nog nie weet wanneer hy uit die hospitaal in Oos-Londen ontslaan gaan word nie.

Die voormalige hoof uitvoerende beampte van die SAUK was glo op ‘n kort vakansie voor die Farlam-kommissie van Ondersoek na die Marikana-skietery volgende week weer hervat.

“Niemand is nog in hegtenis geneem nie. Die ondersoek duur voort,” het brig. Miranda Mills, woordvoerder vir die polisie in die Oos-Kaap, gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.