Mpuma-vloede: Vermiste beampte opgespoor

Rivier in vloed in Mpumalanga

Die liggaam van ‘n vermiste beampte van die verkeersdepartement in Mpumalanga is Vrydagmiddag opgespoor.

“Israel Ndlovu het saam met ‘n inwoner in ‘n ampsvoertuig gery toe hulle verlede Saterdag deur die Nkomazirivier in Tonga meegesleur is,” het Moeti Mmusi, woordvoerder van die departement, gesê. “Sy liggaam is sowat 2km verder opgespoor.” Die ampsvoertuig is Donderdag opgespoor, en die soektog na die vermiste inwoner duur voort. Vusi Shongwe, LUR vir gemeenskapsveiligheid, het sy meegevoel aan die man se familie en vriende betoon.

Dit is die derde voertuig wat, tydens die onlangse vloede in die provinsie, deur dié rivier meegesleur is. ‘n Ambulans met twee paramedici en ‘n privaatmotor met twee insittendes is ook verlede Saterdag meegesleur. Die paramedici is deur lede van die polisie gered en die twee insittendes van die privaatmotor is deur lede van die Suid-Afrikaanse Weermag gered. Die oorlewendes kon aan bome aan die kant van die rivier vasklou totdat hulp opgedaag het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.