Mpumalanga-boer aangeval en as gyselaar aangehou

ʼn Boer van Mpumalanga is glo aangerand, gyselaar gehou en ʼn foto van hom is toe langs die lyk van ʼn vrou, wat mense sonder toestemming op sy plaas wou begrawe, geneem.

Hendrik Davel (34), eienaar van die plaas Sterkfontein naby Wakkerstroom, is Woensdag glo aangeval toe hy ʼn groep genader het om oor die begrafnis ondersoek in te stel, berig Beeld. Sy broer, Sakkie (38), wat hom te hulp gesnel het, is ook glo aangerand en aangehou.

Die groep mense wou glo die begrafnis in ʼn kraal op Davel se eiendom hou, maar hulle het nie vir hom gewerk nie. Davel het glo vroeër die week aan ʼn afvaardiging van die oorledene se gesin gesê dat hulle haar nie op sy plaas kon begrawe nie, aangesien sy in Johannesburg gebly, gewoon en gesterf het. Davel het Woensdagoggend gesien ʼn groot tent is by die kraal opgeslaan en toe hy gaan ondersoek instel het, is hy aangeval.

Die twee broers is later deur die polisie en boere van naburige plase uit die hut bevry. Hulle kon ook Hendrik se vuurwapen, wat tydens die aanval van hom geneem is, opspoor. Alf Uekermann, woordvoerder van die polisie, het bevestig dat die aanranding en diefstal ondersoek word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.