MRK kap sentrum wat homoseksuele ‘help’

Die Creare-opleidingsentrum in Bloemfontein is deur die Menseregtekommissie (MRK) skuldig bevind aan die skending van menseregte weens onregmatige diskriminasie teen homoseksuele mense.

Die departement van justisie het die MRK gevra om ondersoek in te stel na bewerings van onregverdige diskriminasie aangesien die sentrum in sy prospektus aandui dat homoseksuele studente nie by die instelling toegelaat sal word nie, behalwe as hulle in heteroseksuele mense wil verander. “Dit is die skending van die regte op gelykheid, waardigheid, godsdiens, vryheid van assosiasie, vryheid en sekerheid van persoon en opvoeding soos verskans in die Grondwet,” het Isaac Mangena, MRK-woordvoerder, in ‘n verklaring gesê. Mangena sê die MRK verwerp die uitsluitingskriteria en die sentrum se regverdiging daarvan.

Die Sunday Times het in Januarie berig dat die sentrum onder skoot gekom het nadat daar beweer is die sentrum kan homoseksuele mense help om hul seksuele oriëntasie te verander. Cornelius van Heyningen, stigter van die sentrum, het ontken dat die sentrum diskrimineer. “Ons maak voorsiening vir die wat sê: ‘Ek wil verander as ʼn homoseksuele persoon’. Dit beteken nie dat homoseksuele mense nie toegelaat word nie.” Hy het die sentrum sê siening vergelyk met ʼn dwelm rehabilitasieprogram. Die MRK het voorgestel dat die sentrum se prospektus hersien word en binne drie maande aangepas word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Gideon Aggenbag ·

Die MRK se benadering (en blykbaar ook dié van die dept. van Justisie) kan uit heelwat rigtings bevraagteken word.

Eerstens: Indien Die Creare-opleidingsentrum drank- of dwelmverslaafdes sou help, sou dit regverdig wees om te verwag dat hulle verslaafdes wat nie graag wil rehabiliteer nie, in diens sou neem om ander verslaafdes te help? Sekerlik nie! Die belangrike vraag sou wees: Waarom sou die Die Creare-opleidingsentrum NIE mag sê: “Ons doel is om homoseksuele persone wat graag na heteroseksueel wil verander, help om daarin te slaag”. Hoe word hierdie eerlike aanbod van hulp dan nou as diskriminasie gesien?

Anders gesien: Indien ‘n kollege wiskundeklasse aanbied, sou hy diskrimineer deur slegs wiskunde-onderwysers toe te laat om die opleiding te doen? Sou dit ‘n aantasting van menseregte of diskriminasie wees as die kollege sou sê: “Ons kan jou nie in diens neem as jy nie wiskunde ken nie”. Dit kan dan (volgens MRK se benadering) as diskriminasie gesien word teen wiskunde-ongeletterdes.

Tweedens is daar die kwessie van godsdiensvryheid. Isaac Mangena, MRK-woordvoerder, bring hierdie saak in verband met (o.a.) regte op godsdiensvryheid. Op watter gronde en tot watter mate wil Mangena die probleem van homoseksualiteit laat inbreuk maak op godsdiensvryheid? Watter beperkings wil hy op godsdienstige regte toepas? Hoe wil hy (saam met so veel ander) die uitdruklike Bybelse verbod op homoseks systap, en op watter bronne wil hy steun om daardie verbod te herinterpreteer as “aanneemlik vir God”? En indien mnr. Cornelius van Heyningen aangeklae word dat sy godsdienstige oortuigings verkeerd is, wie se godsdienstige oortuigings sal deur ‘n hofbeslissing as standaard/korrek aanvaar word?

Wil die owerheid met hierdie situasie homself in nog ‘n swakker lig stel?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.