MRK ondersoek kameras in tronke

Die Menseregtekommissie (MRK) het ingestem om die wetlike aspekte te ondersoek om kringtelevisiekameras in tronke te installeer.

Die kommissie het onder andere onderneem om ondersoek in te stel watter metodes in ander regsgebiede se tronke gebruik word, en moet hul bevindinge aan die oorsigkomitee van die parlement se korrektiewe dienste bekend maak, het die Cape Argus Donderdag berig.

Lawrence Mushwana, die hoof van die MRK, het Woensdag aan die oorsigkomitee gesê hulle het nog nie ʼn besluit oor die kwessie geneem nie, maar dat die kommissie die regte van gevangenes teen die regte van die gemeenskap moet opweeg.

“As ʼn mens na die nagevolge kyk van wat alles daagliks in ons tronke gebeur, was dit gister al nodig om iets daaraan te doen,” het hy in sy private hoedanigheid gesê.

Judith Cohen, ʼn lid van die oorsigkomitee, het gesê dit is tyd om opsies te ondersoek en oplossings te vind. “Wanneer ʼn persoon gevonnis word om tronk toe te gaan, las die regter nie by dat ‘as deel van jou vonnis, gaan jy op jou eerste aand in die tronk verkrag word’ nie,” het sy gesê.

– Sapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.