MRK oorval met waterklagtes

Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) het in die afgelope twee jaar meer as 140 klagtes rakende probleme met die kwaliteit en voorsiening van water ontvang.

“Onvoldoende water- en sanitasiegeriewe het ʼn impak op die realisering van ander regte soos onderwys, gesondheid, werk en waardigheid,” het Isak Mangena, woordvoerder van die MRK, aan die Sunday Independent gesê. Volgens die berig het een van die 144 klagtes verband gehou met inwoners van Louis Trichardt in Limpopo wat vir langer as 27 dae nie water gehad het nie. “Hospitale kan nie hul toerusting skoonmaak nie. Haarkappers kan nie hare was nie; winkelsentrums moet hul toilette sluit. Rioolafval vloei voortdurend deur die strate,” het Inga Gilfillan, lid van Soutpansberg-belastingbetalersvereniging, aan die koerant gesê. Masala Makumule, bestuurder van die Vhembe Distrik-munisipaliteit, het toegegee dat die verouderde watersisteem probleme gee. “Louis Trichardt het baie gegroei. Die watersisteem is bedoel vir ʼn kleiner dorp.”

Die MRK het ook ʼn klag ontvang van inwoners van Riviersonderend wat beweer hulle water is besoedel. Clive Sandenberg, voorsitter van die belastingbetalersvereniging, sê die bestanddeel wat gebruik word om slik op te los in die Sonderendrivier bevat aluminium. “Die aluminium eindig in ons drinkwater op. Langdurige blootstelling hieraan, langer as ‘n jaar, word verbind aan chroniese neurologiese afwykings soos demensie en Alzheimer, “het hy aan die koerant gesê. Die MRK gaan later die maand ʼn nasionale verhoor oor water en sanitasie hou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.