MRK-verhoor oor plaasmoorde gesoek

Elize Perrin, wie se broer Mauritz Oberholzer in ʼn onlangse plaasaanval vermoor is, en die burgerregte organisasie AfriForum het Donderdag die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) versoek vir ‘n openbare verhoor oor plaasmoorde.

Volgens Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, het die organisasie en Perrin ʼn klagtebundel by die MRK ingedien met hul versoek dat die kommissie ʼn formele openbare verhoor oor plaasmoorde inisieer, met spesifieke fokus op die minister van polisie, Nathi Mthethwa, se “traak-my-nieagtige houding oor hierdie misdaadverskynsel”.

Die bundel, wat uit tien klagtes bestaan, sluit AfriForum se formele klag in, sowel as dié van Bernadette Hall, wie se man, David, verlede jaar op hulle plaas buite Fochville vermoor is. David se beskuldigdes is vrygespreek ten spyte daarvan dat hulle tydens ʼn uitkenningsparade herken is. Nog ʼn klagte is dié van Susan Nortje, die tannie van Willemien Potgieter (2) wat saam met haar pa Attie (40) en ma Wilna (36) op 1 Desember 2010 op hul plaas naby Lindley in die Vrystaat vermoor is. Nog ʼn slagoffer, Corrie Olivier, vertel hoe haar pa se moordenaars hom by die plaasdam gaan begrawe het en hulle vir ʼn tyd lank nie sy liggaam kon opspoor nie.

“AfriForum versoek spesifiek dat die kommissie die minister dagvaar om voor die kommissie te getuig oor sy versuim om met ʼn gefokusde strategie teen hierdie soort misdaad op te tree,” het Roets gesê. Roets verduidelik dat plaasaanvalle krisisafmetings aanneem, maar dat die minister en die departement van polisie nie net weier om ʼn teenstrategie vir plaasmoorde uit te werk nie, maar selfs ontken dat dit ʼn krisis is.

Die organisasie het vroeër vanjaar briewe van 100 slagoffers van plaasaanvalle aan minister Mthethwa oorhandig. “Nog voordat die briewe die minister bereik het, het sy kantoor ʼn mediaverklaring uitgereik waarin die slagoffers se oproepe om ingryping as ʼn ‘publisiteitsfoefie’ afgemaak is wat nie ernstig opgeneem gaan word nie,” het Roets bygevoeg.

Perrin, wat haar storie aan die paneel van die MRK vertel het, het gesê dié uitlating van minister Mthethwa het hulle persoonlik opgeneem. “My broer, Mauritz Oberholzer se moord en ons familie se rou is alles behalwe ʼn foefie. Dit is ʼn werklikheid in die land wat mense diep ruk. Ek wil die reg hê om te rou oor my broer se dood, sonder om te hoor dat dit ʼn foefie is,” het Perrin gesê.

Die nuutste uitgawe van die boek Treurgrond (Kraal Uitgewers), sowel as ʼn verslag wat onlangs deur die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) saamgestel is, is as bylae tot die klagtes aangeheg.

Die volledige klagtebundel is op AfriForum se nuwe webblad beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.