Muilbandwet toe nié geteken nie

Argieffoto

Argieffoto

Daar was Donderdag verwarring of die omstrede Wet op die Beskerming van Staatsinligting (Inligtingswet), oftewel die Muilband- of Snoerwet, amptelik onderteken is. Die parlement het egter intussen bevestig dat die wet nie onderteken is nie.

Dit volg nadat talle kenners in die media- en inligtingsbedryf getwiet het dat die wet Donderdag deur president Jacob Zuma onderteken is. Talle politieke analiste, waaronder Max du Preez en Justice Malala, het vinnig daarop reageer, waarna die nuus soos ʼn veldbrand versprei het.

Malala het onder andere op Twitter geskryf: “Watter simpatie ek ook al vir Zuma weens sy uitjouery mag gehad het, het heeltemal verdwyn. Deur die ondertekening van die Inligtingswet het hy pas op Madiba gespoeg.”

Malala se twiet was egter gebaseer op ‘n dokument wat voorberei is deur die parlement wat aan die presidensie gestuur gaan word vir Zuma se oorweging. Die parlement het vinnig bevestig dat Zuma nog nie die wetsontwerp onderteken het nie.

Die dokument wat deur die parlement versprei is lyk amptelik, en is getiteld die “Wet op die Beskerming van Staatsinligting no. 41 van 2013”.

Luzuko Jacobs, ʼn woordvoerder van die parlement, het gesê die Wetsontwerp op die Beskerming van Staatsinligting is nog nie onderteken nie en is dus nog nie ʼn wet nie.

Jacobs het aan EWN gesê wetsontwerpe moet eers in een van die amptelike tale vertaal word alvorens dit na die president gestuur kan word vir oorweging.

Die wetsontwerp is dus een stappie nader om ʼn wet te word.
Bron: EWN

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.