Mulder: Gronddebat moet op feite gebaseer wees

Dr Pieter Mulder Foto: GCIS

Die leier van die Vryheidsfront Plus, dr. Pieter Mulder, het Woensdag ʼn knuppel in die hoenderhok van grondeienaarskap gegooi toe hy aangevoer het dat swart “Bantoesprekende” mense geen historiese aanspraak het tot 40 persent van die land nie.

“Afrikane in besonder het in die verlede nooit in die hele Suid-Afrika geleef nie,” het Mulder gesê tydens ʼn debat in die Nasionale Vergadering oor verlede week se staatsrede. Mulder se uitlatings het lede van die regerende party uitgelok en het die tonge laat klap voor Mulder verduidelik het: “Daar is genoegsame bewyse dat daar geen Bantoesprekende mense in die Wes-Kaap en noordelike Wes-Kaap was nie.” Die area beslaan sowat 40% van Suid-Afrika se grondgebied, het Mulder aan LP’s gesê. Mulder is ook die adjunk-minister van landbou. Hy het reageer op president Jacob Zuma se aanmerking tydens sy staatsrede verlede week, dat die gewillige koper en gewillige verkoper beleid nie die “beste manier” was vir die herverdeling van grond nie. Mulder sê die kwessie van grondeienaarskap was ʼn emosionele kwessie wat reeds tot baie oorloë gelei het.

In die Suid-Afrikaanse konteks het Bantoesprekende mense in ʼn suidelike rigting oor die kontinent beweeg vanaf Afrika se ekwatoriale streke, terwyl Europeërs noordwaarts vanaf die Kaap beweeg het. Hulle het mekaar by die Keirivier in die hedendaagse Oos-Kaap ontmoet. “Daar is ook verskillende menings oor die invloed van die Difaqane op grondeienaarskap. Lees die dagboeke van die Voortrekkers wat hulle gekry het toe hulle na die binneland getrek het,” het hy aan die LP’s gesê. Die Sothowoord “Difaqane”, of “Mfecane” in Zoeloe is die term wat deur geskiedkundiges gebruik word vir ʼn tydperk van onderlinge oorlogvoering tussen verskeie stamme in die binneland van suidelike Afrika in die vroeë tot middel 19e eeu.

Mulder het ʼn probleem gehad met grondeienaarskapstatistiek wat Zuma in sy toespraak aangehaal het. “Die president het syfers van die departement van landelike ontwikkeling oor grondhervorming in sy toespraak aangehaal. Volgens dié syfers het wit mense 87% van die grond besit en die regering het slegs sowat 8% van sy 30%-doelwit bereik. Ek stem glad nie met hierdie syfers saam nie. Hoe het die departement die 8% bereken? Daar is nie ʼn volledige grondoudit waarteen ons hierdie syfers kan staaf nie.” Die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika het in 2001 bereken dat 44% van die land se grond het aan wit mense behoort, 20% aan swart mense, 9% aan bruin mense en 1% aan Asiërs. “Die manier waarop die departement die 30% en 8%-syfers bepaal het skep die indruk dat hulle verwag om nie suksesvol te wees nie.”

Mulder het ook gesê dat hy ernstig verskil met die stelling dat wit mense grond gesteel het. In sy verwysing na Zuma se uitlatings oor die gewille verkoper en gewillige verkoper beleid het hy gesê dat dit in gewone taal beteken dat die regering nou in die nasionalisering van landbougrond glo. Enigiemand wat egter reeds met grondhervorming te doen gehad het, weet dat die probleem nie by die gewillige koper en gewillige verkoper beginsel lê nie. “Die probleem lê in die rampspoedige manier waarop grondhervorming toegepas word. Daar is baie briewe op my tafel van wit kommersiële boere wat hul grond aan die departement aangebied, en geen antwoord ontvang het nie,” het Mulder bygevoeg. “Daar is ook baie briewe van wit kommersiële boere wat verkoopooreenkomste met die departement afgehandel het, maar die afgelope drie jaar bankrot gespeel het omdat die regering nog nie die betaling gedoen het nie.”

Mulder wou ook weet waarom die departement van landelike ontwikkeling nie plase in die Kalahari en Karoo gekoop het nie. “In die Karoo en Kalahari is groot plase beskikbaar. Waarom koop die departement nie hierdie grond om hul 30%-doel vinniger te bereik nie? Hierdie semi-woestynplase word egter tot die 87%-propaganda persentasie as wit grond bygevoeg.” Mulder sê hy hoop daar sal ʼn tyd kom wat beide swart en wit kommersiële boere nie op die uitkyk hoef te wees vir ander geleenthede in Afrika nie. “Ek droom van wit en swart kommersiële boere wat nie na Afrika hoef te gaan vir geleenthede nie. Die kinders wat in 1994 gebore is en hierdie jaar 18 jaar oud is, kan stem. Hulle ken slegs ʼn ANC-regering,” het hy gesê. Daar is geen rede waarom so ʼn kind, net omdat hy of sy wit is, nie in staat kan wees om ʼn plaas te koop of ʼn beurs te ontvang nie. Maar dit gebeur egter steeds.”

Mulder se toespraak was te veel vir Lindiwe Sisulu, minister van verdediging, wat, nadat hy klaar gepraat het, opgespring en daarop aangedring het om te weet of dit parlementêr was vir ʼn lid om “blatant die geskiedenis te verdraai”. Speaker Max Sisulu het dit afgemaak en gesê dat dit slegs inligting was, nie ʼn punt van orde nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.