‘Muldersdrift’-bende in die hof

Twee mans van ‘n bende wat aan ‘n reeks gewelddadige misdade insluitend moord en roof verbind kan word, het Donderdag in die Krugersdorpse landdroshof verskyn.

“Hul saak is tot 24 Januarie 2013 uitgestel vir verdere ondersoek,” het lt.kol. Lungelo Dlamini, woordvoerder van die polisie, gesê. Die mans bly in aanhouding.

Die paar word aan agt misdade insluitend moord, poging tot moord, sakeroof, huisbraak en diefstal in Muldersdrift verbind. Die misdade het sedert Julie vanjaar plaasgevind. Dlamini sê drie ander mans wat in verband met dieselfde misdade in hegtenis geneem is, sal op 31 Desember in die hof verskyn. “Die polisie hou tans ‘n uitkenningsparade wat moontlik daartoe kan lei dat die verdagtes moontlik aan ernstiger en gewelddadiger misdade in die gebied verbind kan word,” het Dlamini bygevoeg.

Dlamini sê dit is moontlik dat verdere inhegtenisnemings kan plaasvind.

Die vyf mans is verlede week in twee afsonderlike polisie-operasies in hegtenis geneem nadat ‘n gesteelde kredietkaart gebruik is om sowat R9 000 by ‘n kroeg in Diepsloot te onttrek.

Tydens die inhegtenisnemings het die polisie beslag gelê op ‘n tweedeur Pajero-voertuig wat in Midrand gekaap is, wat later glo gebruik is om ‘n man tydens ‘n gewapende roof te ontvoer. Die ontvoerde man is later in Midrand afgelaai.

Die bende is glo verantwoordelik vir ‘n aantal huisbrake sowel as ‘n sakeroof by Nulaid Eggs en ‘n roof by ‘n plaas waar ‘n aantal lewendige hoenders gesteel is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.