Paul Starkey (53), ʼn boer van Muldersdrift, Krugersdorp, het Sondag verduidelik hoe inwoners in die gebied in vrees lewe nadat twee van sy werknemers Vrydag tydens ʼn rooftog doodgeskiet is.
Vyf gewapende rowers het glo die plaas se elektriese heining afgeknip, berig EWN. Starkey sê hy het op dié grusame moordtoneel afgekom nadat hy aandete saam met sy vrou geniet het.
Volgens Starkey het die bende ook sy werknemers se lone gesteel.
Een van die twee plaasarbeiders is op die toneel dood, en die ander een is steeds in ʼn kritieke toestand by die Helen Joseph-hospitaal.
Starkey sê inwoners van Muldersdrift is nou bykans nooit meer sonder hul wapens nie, weens die reeks moorde wat die afgelope ruk in die gebied plaasgevind het. “Inwoners is baie, baie kwaad. Die hele gebied is ontsteld. Mense dra nou hul wapens rond en maak seker dat hulle dit die heeltyd by hulle het,” het Starkey gesê.
Starkey doen ʼn beroep op die regering om die weermag na Muldersdrift te ontplooi. “Geld word in die weermag gestort, maar die soldate word nie ontplooi om inwoners teen kriminele te beskerm nie,” het hy gesê.
Starkey, ook ʼn besigheidseienaar, is tans besig om alle geweld in die gebied sedert 2000 aan te teken.