Munisipale bestuurder aanspreeklik vir Louis Trichardt

Die foto van die onluste is deur die DA van Mpumalanga (@DA_Mpum) op Twitter gelaai.

Die Noord-Gautengse Hooggeregshof het Donderdag beveel dat die munisipale bestuurder van die Vhembe-distriksmunisipaliteit, Masala Makumule, 90 dae het om aan die gemeenskap van Louis Trichardt (Makhado) water te voorsien, ingevolge ʼn vorige hofbevel.

Die burgerregte-organisasie AfriForum het ‘n dringende aansoek in die hof geloods, nadat die Vhembe Munisipaliteit ingevolge ʼn vorige hofbevel misluk het om water aan hierdie gemeenskap in Limpopo te voorsien.

Die vorige bevel van Oktober 2012 bevat stapsgewys bepalings wat die Munisipaliteit moes volg, sodat Louis Trichardt weer lopende water kan hê. Die Munisipaliteit het egter tot dusver misluk om aan die uiteengesette bepalings te voldoen, daarom was dit noodsaaklik vir AfriForum om die aansoek te bring om aanspreeklikheid op te eis.

“Dit is jammer dat Suid-Afrikaners die hof moet nader om basiese dienste te verkry. Indien munisipaliteite nie hofbevele uitvoer of hulle Grondwetlike pligte nakom nie, het die burgerlike samelewing die reg om aanspreeklikheid op te eis. Dié nuutste bevel teen Mnr. Makumule is ʼn versinnebeelding daarvan,” het Werner Human, AfriForum se regsverteenwoordiger gesê.

Indien die 90 dae verstryk het en daar steeds nie aan die bevel voldoen is nie, sal AfriForum minagtingstappe teen Mnr. Makumule bring, wat, indien suksesvol, beteken dat hy gevangenisstraf kan uitdien.

“AfriForum gaan die 90 dae streng dophou en sal nie huiwer om die nodige stappe te doen om die hofbevel af te dwing nie,” het Human bygevoeg.

“Ons is ekstaties oor die uitspraak en ons glo geregtigheid het hier geskied,” het Wally Schultz, voorsitter van die AfriForum Louis Trichardt-tak gesê.

Intussen is 33 mense sedert Woensdag in hegtenis geneem in verband met openbare geweld in die omgewing omdat hulle vermoedelik oor dienslewering betoog. Lees meer hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.