Daar is tans geen regulasies in plek om munisipale bestuurders, waarvan sommiges glo meer as president Jacob Zuma verdien, se salarisse te bepaal nie.
Die Dispatch Online het Donderdag berig planne is onderweg om die salarisse van top beamptes te reguleer.
“In die stadium is daar wettiglik geen vasgestelde salarisse nie,” het Stanley Khanyile, die superintendent-generaal van die departement van plaaslike regering van die Oos-Kaap, vandeesweek tydens ʼn portefeuljekomitee-vergadering van die Bhisho-wetgewer gesê.
“Vir die eerste keer sal daar ʼn plafon wees. Die minister sal die munisipaliteite in verskillende kategorieë plaas en die beperking daarvolgens bepaal,” het Khanyile gesê.
Hy sê in die stadium is die regering se hande vasgebind omdat die onderskeie munisipaliteite die salarisse van hul top beamptes bepaal.
Na wat berig word, het Khanyile die voorbeeld gebruik van die Nelson Mandelabaai-metro se laaste munisipale bestuurder wat op kontrak aangestel was met ʼn salaris van meer as R2.3 miljoen per jaar – R300 000 meer as Zuma se salaris.
– Sapa