Munisipaliteit het glo alles reg gedoen vir betaalde parkering in JHB

Borde soos dié is in Parkhurst opgerig om inwoners oor die nuwe parkeerstelsel in te lig

Die munisipaliteit van Johannesburg het Woensdag gesê dat hulle aan alle wetlike vereistes voldoen het toe dit die betaalde parkeerstelsel in werking gestel het.

“Ons het kennisgewings aan die publiek en besighede gestuur,” het Pieter de Klerk, regsverteenwoordiger van die stad, aan verslaggewers gesê. “In Parkhurst word die vraag gevra of publieke konsultasie voldoende was. Ons het gedink dat dit voldoende was, maar die gemeenskap het meer betrokkenheid versoek.” Gabu Tugwana, woordvoerder vir die stad, sê hulle het geglo ʼn parkeerstelsel onder goeie beheer sal besoekers aanmoedig om besigheidsgebiede te besoek, aangesien parkering naby aan die winkels beskikbaar sal wees.

Johannesburg het altyd ʼn parkeerstelsel in die vorm van parkeermeters en metrobeamptes gehad. Dié stelsel is nou “ten gunste van ʼn meer moderne stelsel wat byvoordele inhou” vervang.

Gebiede wat deur die betaalde stelsel geraak sal word sluit in: Braamfontein, Parkhurst, Rosebank, Roodepoort middestad, Sandton, Corlett-rylaan, Brixton, Emmarentia, Birnam, Melville, Florida, Norwood, Fordsburg, Parkview, Greenside, Craighall Park, Northcliff, Rivonia en Linden.

In dié stadium beloop die tariewe R8 per uur en R4 vir 30 minute. Ten minste 74.8% van die inkomste sal aan Ace Parking, die diensverskaffer betaal word en 25.2% aan die Stad Johannesburg. Gelde wat deur boetes ingevorder word sal direk aan die stad oorbetaal word.

Ace Parking het die tender ontvang om die parkeerstelsel te bestuur. Tugwana sê die stad is gewillig om met die inwoners en raadslede in gesprek te tree oor die stelsel om seker te maak dat dit nie as ʼn “strafmaatreël of steurnis vir besighede” beskou sal word nie. “Die deur is nie toegemaak nie,” het hy gesê.

Die stelsel sal na verwagting in Junie in meeste gebiede bekendgestel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.