Munisipaliteit mag krokodil skiet

Argieffoto

Ezemvelo-natuurbewaring in KZN het magtiging verleen aan die eThekwini-munisipaliteit om ‘n krokodil dood te maak wat die afgelope jaar vrylik rondbeweeg in die uMngeni-rivier naby Durban se Windsorpark Munisipale Gholfbaan.

“In hierdie stadium is die krokodil veral ‘n bedreiging vir mense wat op die oewer rondloop,” het Musa Mntambo, woordvoerder van Ezemvelo, gesê. “Die krokodil kan te voorskyn kom, en mense kan dalk uit skok in die rivier spring en dan sal die krokodil hulle opvreet.”

Diereregte Afrika het egter gesê die munisipaliteit moet nie die krokodil skiet nie. “Ezemvelo het nie sy werk behoorlik gedoen om sulke diere te beskerm nie,” het Steven Smith, woordvoerder van Diereregte Afrika, aan die SAUK gesê. Smith sê daar is meer as net een reptiel in die uMngeni-rivier wat ‘n aanduiding is dat dit hulle natuurlike habitat is. “Enige versoek om die dier dood te maak is onvanpas en die raad moet in gedagte hou dat krokodille al ‘n geruime tyd in die rivier is sonder enige voorvalle. Dit wil voorkom of daar nou oorreageer word, indien die dier ‘n bedreiging vir enigiemand inhou moet hy gevang word en as hulle hom nie kon vang nie, het hulle [Ezemvelo] hul plig versuim.”

Mntambo stem nie saam nie en sê hulle het talle pogings aangewend om die krokodil te vang. “Ons het talle wippe in die rivier gestel, maar die probleem is dat die krokodille nie die lokaas vreet wat ons in die wippe plaas nie. Daar is blykbaar genoeg visse waaraan hulle smul,” het Mntambo gesê. Hy voer aan dat die krokodil ‘n bedreiging inhou vir die gemeenskap langs die rivier. Hy sê Ezemvelo-natuurbewaring het nog nie die krokodille gesien nie, maar het berigte van mense ontvang en die organisasie het ‘n wip gaan stel, maar “niks het gebeur nie”. “Die laaste persoon wat die krokodil gesien het, het gesê hy is bykans 2.5m – 3m lank.”

Niemand weet waar die krokodil vandaan kom nie, maar Mntambo raai dit kon van enige van die vertakkingsriviere wat by die uMngeni aansluit, gekom het, ná swaar reën die afgelope jaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.