Murray maak geskiedenis by Wimbledon

Andy Murray Foto: telegraph.co.uk

Die Skot Andrew Murray het vandag sy naam in die geskiedenis gegraveer toe hy die eerste Britse tennisspeler in 77 jaar geword het wat die Wimbledon-toernooi gewen het.

Hy het Serwië se Nowak Djokowic in skoon stelle geklop om Djokowic, wat nog nooit die knie voor Murray moes buig nie, ‘n sewende Grand Slam-titel te ontsê. Die laaste Britse speler wat dit kon doen was Fred Perry in 1936.

Djokowic het moeg, ongefokus en traag gelyk en kon duidelik nie die tempo van die wedstryd volhou nie. Hy het Vrydag in die langste halfeindstryd in die geskiedenis van Wimbledon teen Juan Martin del Potro gespeel. Die wedstryd het vyf moordende stelle ingesluit en bykans vyf ure geduur en die uitwerking daarvan was duidelik te sien in die Serwiër se verlaagde energievlakke in vandag se eindstryd.

Murray het die eerste stel 6-4 verower en het twee keer in dié stel op Djokovic se afslaan deurgebreek. Murray het 84% van die punte van sy eerste suksesvolle afslane gewen terwyl hierdie statistiek slegs 54% was vir Djokowic.

Murray het weer twee keer in die tweede stel deurgebreek en dit met 7-5 gewen om met hope selfvertroue ‘n blaaskans te neem om die derde stel aan te durf.

Die skare, wat deurspek was met hooggeplaastes soos die Britse premier David Cameron en die Skotse akteur Gerard Butler, was in daardie stadium op hul voete om hul landgenoot aan te vuur.

Murray het deurentyd na ‘n kampioen gelyk: Die houe was die definisie van presisie en dis asof hy met elke punt kon antisipeer wat Djokowic sou doen en dit dan met briljante spel uitgebuit het. Sy afslane was ook baie meer sekuur as dié van die Serwiër, wat onkenmerkend baie dubbelfoute gemaak het.

Die laaste stel was nie egter nie ‘n uitgemaakte saak nie en Murray moes hard baklei om die botoon te voer. Djokowic het klaarblyklik ‘n tweede asem aan die begin van die stel gekry en op die Skot se afslaan deurgebreek. Nietemin het Murray koelkop gebly, later weer deurgebreek op Djokowic se afslaan en ‘n nasie se hoop en verwagtinge beloon.

Die Britte het rede om hierdie naweek behoorlik fees te vier. Eers het die Britse en Ierse Leeus hul eerste reeksoorwinning sedert 1997 behaal toe hulle Australië in die beslissende toets in Sydney met 41-16 verniel het. En nou het Murray ‘n merkwaardige mylpaal behaal. Die Engelse krieketspan speel ook eersdaags teen Australië in die reeks om die As en alle verwagtinge is dat die Britte ook daar die Aussies baas sal raak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.