Musikant-skietery: Polisiebeamptes aangekla

Khuli Chana

Khuli Chana

Twee polisiebeamptes gaan van poging tot moord aangekla word in verband met die skietery op die musikant Khuli Chana.

Moses Dlamini, woordvoerder van die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod), sê na afloop van hul ondersoek na die voorval in Oktober vanjaar is daar aanbeveel dat die twee polisiebeamptes van poging tot moord aangekla word. “Die direkteur van openbare vervolging stem saam met die aanbevelings.” Die polisiebeamptes sal na verwagting op 18 Februarie in die Randburg-landdroshof verskyn.

Chana is op 28 Oktober by die New Road-afrit in Midrand deur polisielede gewond toe hulle hom glo as ʼn ontvoerder aangesien het. Die polisie was besig met ʼn middernagtelike operasie om ʼn ontvoerder vas te trek. Chana het glo in ʼn soortgelyke motor gery as ʼn verdagte wat by ʼn kaping betrokke was. Chana het glo weggejaag toe die polisie sy motor probeer stop het waarna polisielede op sy motor losgebrand het. Chana het die polisiebeamptes glo probeer omry. Die polisie ondersoek tans die moontlikheid om Chana van poging tot moord aan te kla.

Erich Motsepe, ʼn speurder verbonde aan die Silverton-polisiestasie, is vroeër in hegtenis geneem in verband met die ontvoering. Die polisie soek na nog verdagtes. Die verdagtes het ʼn sakeman ontvoer en ʼn losprys van R100 000 van sy familie geëis. Motsepe is in hegtenis geneem nadat hy die losprys afgehaal het. Die slagoffer se familie is beveel om die losprys by die Caltex-vulstasie by die New Road-afrit te los. Dit is hier waar polisiebeamptes Chana se motor gesien het en hom vir die ontvoerder aangesien het. Die ontvoerde slagoffer is kort hierna ongedeerd opgespoor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.