Myne verloor miljoene weens kragonderbrekings

Argieffoto

Anglo Gold Ashanti en Sibanye Gold het sowat R481 miljoen verloor ná ʼn kragonderbreking weens ʼn weerligstraal by ʼn Eskom-substasie hulle gedwing het om verskeie groot aanlegte te sluit.

Terwyl die kragonderbreking by die Midas-substasie naby Carletonville, wat sowat 400MW aan die myne verskaf, isoleer is, is daar toenemend kommer oor Eskom se vermoë om voldoende krag te kan voorsien indien hulle Medupi-projek nie voor die einde van die jaar afgehandel kan word nie, berig Business Day.

Eskom het Maandag gesê hulle het ʼn nasionale buffer van 500MW, weens onbeplande kragonderbrekings van 7 227MW by sy aanlegte. Dit is baie naby aan die marge wat in laat 2007 en vroeg 2008 tot landswye kragonderbrekings gelei het.

Die internasionale standaard vir ʼn reserwe-marge, ʼn maatstaf van kapasiteit bó aanvraag, is 15%. In Suid-Afrika is dit 1%.

Indien Eskom nie sy Medupi-aanleg teen die einde van die jaar in gebruik kan neem nie, sal Suid-Afrika glo definitief volgende jaar aan beurtkrag en kragonderbrekings blootgestel wees, berig Business Day verder.

Anglo Gold en Sibanye kan sowat 32.646oz goudproduksie ter waarde van R481 miljoen teen huidige pryse verloor weens die kragonderbreking. Eskom het intussen 300MW na die gebied herstel. Tydens die kragonderbreking het Driefontein-myn kragopwekkers gebruik om sowat 400 mense na die oppervlak terug te bring.

-SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.