Mynsterftes: Meer sterf moontlik as verlede jaar

Die vakbond Solidariteit sê hoewel daar minder mynsterftes was tot en met einde September vanjaar as in die ooreenstemmende tydperk verlede jaar, die totale aantal mynsterftes vir die jaar moontlik hoër gaan wees as in 2011. Luidens statistieke van die departement van minerale hulpbronne het 77 mynwerkers tot en met einde September vanjaar in Suid-Afrikaanse myne omgekom.

Advokaat Paul Mardon, hoof van Solidariteit se afdeling vir beroepsgesondheid en -veiligheid, sê die mynsterftes kan egter veel hoër wees teen die einde van die jaar aangesien komkommertyd, die laaste twee maande van die jaar, waartydens die voorkoms van mynongelukke gewoonlik skerp toeneem, steeds aan die gang is. “Teen die einde van September 2012 was daar 77 sterftes in die myne, in vergelyking met 91 in die ooreenstemmende tydperk verlede jaar, maar teen 22 November 2012 is ons meegedeel dat die sterftes in myne al op sowat 95 gestaan het.”

Mardon sê 2012 was ʼn uitdagende jaar vir mynbou weens die eise wat die ekonomie aan die volhoubaarheid van die industrie gestel het. Dit is deur intense onwettige arbeidsonrus vererger. “Marikana en ander voorvalle van onrus by die myne en die gepaardgaande sterftes het die aandag van die probleem van veiligheid by myne afgetrek. Wanneer daar arbeidsonrus by ʼn myn is, word daar soms minder aandag aan veiligheid gegee en staan myne dikwels vir weke stil. Dan word die nodige instandhouding nie gedoen nie. In ag genome die sterftes weens die arbeidsonrus by die myne sowel as die mynsterftes was dit ʼn bloedige jaar vir mynbou. Beide die ekonomiese uitdagings en uitdagings ten opsigte van veiligheid en gesondheid het mynbou by ʼn kruispad gebring en daar sal nuut en innoverend gedink moet word om die volhoubaarheid van die industrie te verseker.”

Nagenoeg 69% van die noodlottige ongelukke in die eerste nege maande van 2012 het in Gauteng, Noordwes en Limpopo voorgekom. “In Gauteng het daar teen einde September reeds 21 mynwerkers gesterf, terwyl daar in Noordwes en Limpopo onderskeidelik 20 en 12 noodlottige ongelukke was,” verduidelik Mardon.

Algemene ongelukke het tot 26 (30%) van die sterftes bygedra. “Nege van die sterftes was as gevolg van ongelukke weens oorstromings en verdrinking terwyl sewe van die sterftes aan blootstelling aan stof, gas en dampe toegeskryf was. Grondstortings het tot 26% van die afgelope nege maande se mynsterftes bygedra.”

In 2010 is 127 mynwerkers dood en in 2011 het die aantal mynsterftes afgeneem tot 123.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.