‘n Bielie van ‘n pampoen

Johan se seun, Henry, by sy tamaai-pampoen in 2012 toe hy die rekord gebreek het. Foto: www.fastmoving.co.za

‘n Semi-afgetrede boer van Worcester in die Wes-Kaap het ‘n Suid-Afrikaanse landbourekord opgestel deur ‘n 417.5kg pampoen te kweek.

“Mens moet mooi na hulle kyk,” het Johan du Plessis ter verduideliking aan Beeld gesê. Hy het Saterdag dié rekord by die Groot Pampoen-kompetisie by Diemersdal Durbanville Wynlandgoed opgestel. Dié kompetisie is deel van ‘n streekslandboufees. Hy sê dit het ongeveer ses maande lank geduur om die pampoen tot sprokiesverhaalgrootte te laat groei, groot genoeg vir Aspoestertjie om daarin te pas.

Johan se seun, Henry, het verlede jaar die rekord opgestel met ‘n pampoen van 390kg. Johan het die titel in 2009 en 2011 ingepalm. Henri het vanjaar derde plek behaal met ‘n pampoen van 376.5kg. Volgens Johan is hul familie nog altyd lief vir pampoene. “Om groot groente te laat groei moet jy mooi na hulle omsien,” het hy gesê. Hy sê sy pampoene word organies gekweek en hy skenk spesiaal aandag aan die grond voordat hy dié Atlantiese Reusesade plant. “Die pampoen word met ‘n lap bedek om seker te maak dit brand nie in die son nie, en daar moet ook ‘n laag plastiek onder die pampoen wees met genoeg spasie sodat die blare en stammetjies genoeg kos kan kry.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.