‘n Lewe op mars?

Foto: NASA

Min ruimteprojekte sedert die eerste maanlanding het die Amerikaners se verbeelding so aangegryp soos hierdie sending, bekend as die Curiosity-sending. Die landing van die jongste marstuig word Maandag selfs op groot skerm in Time Square in New York vertoon.

Die landing is gevorderd en gewaagd, en Nasa verwys na die proses om die marsvoertuig, wat so groot soos ‘n gesinsmotor is, op die oppervlak neer te laat, as “sewe minute van vrees”.

Die vernaamste doel van hierdie sending is om besliste bewyse te vind dat Mars eens voldoende water bevat het om lewe te kon onderhou. By die leke het dit gou omgesit in ‘n weergawe dat Nasa nou “tekens van lewe” gaan soek. Niemand sal so verbaas wees soos Nasa self nie, as daar inderdaad lewe gevind word. Toestande op Mars is al miljarde jare te ongunstig om lewe, soos ons dit enigsins kan begryp, te onderhou.

Dit is moontlik dat toestande op Mars sowat 4 miljard jaar gelede meer gunstig vir die vorming van lewe kon wees, en dat ‘n vlak oseaan kon bestaan het. Dié toestande wat deur ‘n broeikaseffek aangehelp sou wees, kon tot sowat 500 miljoen jaar geduur het. Sou daar dan lewe gewees het, is dit miljarde jare voor toestande op aarde leefbaar geword het. Om nou spore daarvan te vind, is bykans ondenkbaar.

Oor periodes daarna waar ‘n aantal faktore sou kon saamspeel om gunstiger toestande as nou te skep, is kenners dit minder eens. Die Gale-krater waarin die tuig neergelaat word, is een van die laagste plekke op mars se oppervlak. ‘n Deel van die krater bevat egter ook ‘n berg wat ‘n helling verskaf waarteen die tuig tekens van ou waterstande sal kan soek.

Die waarde van die Marssending lê veel meer opgesluit in die ontwikkeling van tegnologie wat vir die aardbewoners hier op moederaarde van waarde kan wees. Tweedens hang die moontlikheid van bemande sendings eendag baie daarvan af van dit wat nou op Mars gevind word, terwyl daar ook drome gedroom word van die kunsmatige skepping van toestande sodat mense daar kan woon.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Hoofnuus, Nuus, Ruimte, SA-nuus

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae