Een man is dood en vyf ander beseer ná ʼn kettingbotsing van drie motors op die N1-noord naby die New Road-afrit in Johannesburg, het paramedici Donderdag gesê.
Sup. Wayne Minnaar, woordvoerder van die polisie, het gesê die verkeer was baie swaar op dié roete weens die ongeluk. Alle bane is omstreeks 22:00 gesluit sodat ʼn noodhelikopter ʼn landing kon doen. Jeff Wicks, woordvoerder van Netcare911 het gesê een van die mans wat ernstig beseer is, is per helikopter na ʼn nabygeleë hospitaal geneem. “Dit blyk dat drie ligtemotor-voertuie wat in dieselfde rigting gery het, in mekaar vasgery het.” Wicks sê die ander beseerdes is per ambulans na nabygeleë hospitale geneem. Die snelweg is intussen weer vir verkeer geopen.-SAPA