N1 oopgestel ná ontploffing; polisielid verloor been

Die ongelukstoneel op die N1 Foto: SAPD, Facebook

Die ongelukstoneel op die N1 Foto: SAPD, Facebook

Die N1-snelweg naby Mokopane (Potgietersrus) in Limpopo is Saterdag weer oopgemaak nadat ʼn vragmotor ná ʼn ongeluk op die snelweg ontplof het.

“Die pad is herstel en die snelweg is weer oopgemaak,” het Vusi Mona, woordvoerder vir die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) Saterdag gesê.

ʼn Vragmotor met kruideniersware het Donderdag agter in ʼn vragmotor met springstof vasgery. Die vragmotor met die springstof het ná die impak aan die brand geslaan en ontplof. Een van die vragmotorbestuurders en vier polisiebeamptes wat ondersoek ingestel het op die ongelukstoneel, is tydens die ontploffing oorlede.

“Twee polisiebeamptes, ‘n kaptein en ‘n konstabel, wat ook in die ontploffing beseer is, is Vrydag uit die hospitaal ontslaan,” het Ronel Otto, woordvoerder van die polisie in Limpopo, gesê. “‘n Derde polisiebeampte se been moes afgesit word. Hy is steeds in die hospitaal, maar in ‘n stabiele toestand.” Drie motoriste is ook beseer.

Die ongeluk het ʼn gat van ongeveer 8 meter breed in die pad gelaat.

Die bane in ʼn noordelike rigting is Vrydagaand oopgestel en die bane in die suidelike rigting is Saterdagoggend oopgestel. -SAPA

Lees ook:
Polisiebeamptes sterf in ontploffing op Limpopo-snelweg

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.