N1 tussen Kaapstad en JHB gesluit

Motoriste wat van Kaapstad na Johannesburg toe op die N1 wil ry, sal duskant Beaufort-Wes moet omdraai.

Die snelweg net noord van Beaufort-Wes is gesluit weens swaar sneeuval in dié gebied, berig EWN. Uiterste weerstoestande het genoodsaak dat paaie oor die westelike, oostelike en suidelike Kaap gesluit moet word.

Ashref Ismail, woordvoerder van die Padverkeersbestuurskorporasie (RTMC) het gesê daar is ongelukkig nie alternatiewe roetes nie. “Motoriste sal hul reisplanne moet uitstel en moet omdraai.”

Kenny Africa, woordvoerder van die verkeersdepartement in die Wes-Kaap, sê beamptes doen hul bes om motoriste te help, maar die paaie bly gesluit. Hy het bygevoeg dat motoriste van Kimberley deur Victoria-Wes nie die pad kan gebruik nie. Motoriste tussen Victoria-Wes en Drie Susters is ook beïnvloed.

“Ons verwag steeds baie koue toestande regoor die Wes-Kaap, met moontlike sneeuval, hoofsaaklik in dele van Beaufort-Wes. Ons verwag egter nie sneeu vir Sondag nie,” het William Msimanga van die Suid-Afrikaanse Weerdiens gesê.

Die Swartberg-pas tussen Oudtshoorn en Prince Albert is ook gesluit.

Gerard Otto, woordvoerder van rampbestuur, versoek mense om 4×4-voertuie te gebruik indien hulle die sneeu wil gaan sien.

Die bergpasse op die N6 en die N9 in die Oos-Kaap is ook gesluit weens swaar sneeuval. Die Penhoek-pas tussen Queenstown en Jamestown is onbepaald gesluit. Sneeu versper ook ‘n gedeelte van die Lootsberg-pas op die N9 tussen Middelburg en Graaff-Reinet.

Die Suid-Kaap is gedeeltelik deur die uiterste weerstoestande getref.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Marietjie Griffiths ·

Dis pragtige tonele met die spierwit sneeu..maar die arme diere dink verseker nie so nie….siestog ounooi..xx

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.