N3-snelweg gesluit na gru-ongeluk

'n Motoris het dié foto van hoe die verkeer opgehoop het, op Twitter gelaai.

‘n Motoris het dié foto van hoe die verkeer opgehoop het, op Twitter gelaai.

Drie mense is dood en drie ernstig beseer nadat ʼn kettingbotsing Vrydagoggend op die N3-deurpad naby Germiston plaasgevind het.

Insp. Kobeli Mokheseng, woordvoerder van die Ekurhuleni-metropolisie, het gesê ʼn voorlopige ondersoek dui daarop dat ʼn silwer Mercedes Benz-sedan teen ʼn wit Isuzu-afleweringswa gebots het, waarna ‘n Range Rover ook omgeslaan het in ʼn poging om die ongeluk te vermy. Daar word vermoed dat al drie voertuie in die rigting van Bedfordview gery het.

“Die Mercedes het teen die Isuzu gebots, waarna die Isuzu beheer verloor, en in die aankomende verkeer se baan op die N3-noord gerol het,” het Mokheseng gesê. “Die Isuzu het in twee stukke geskeur. Die Range Rover het die ongeluk probeer vermy, waarna dit ook beheer verloor en omgeslaan het.”

Die bestuurder van die Mercedes is na die Union-hospitaal geneem terwyl ʼn manlike passasier, in sy 20s, op die toneel dood verklaar is.

“Die manlike bestuurder van die Isuzu, in sy 50s, en ʼn manlike passasier, in sy 40s, is ook op die toneel dood verklaar.”

Twee insittendes van die Range Rover is na die Bedford Gardens-hospitaal geneem.

Die gebied is weer teen 08:00 vir verkeer oopgemaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Willy ·

Soveel ongelukke vanoggend. Het weer met moeite by die werk gekom. Was dit betaaldag? Wonder maar net wat was die rede.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.