Ná Afrika-podiums droom Spies van Spele

Anneke Spies in aksie op die groot verhoog. (Foto: Verskaf)

Toe die kollig op Anneke Spies in Accra geskyn het, het sy nie teleurgestel nie.

Die 30-jarige atleet van Mosselbaai het omtrent vir jou ʼn kragtoer by die Afrika-spele in Ghana gelewer en haar drie silwer medaljes op die gewigoptelplatform het Suid-Afrika se medaljeoes ʼn definitiewe hupstoot gegee.

Spies het met een gladde beweging 84 kg bo haar kop opgetel (snatch), terwyl sy 101 kg éérs tot by haar skouers opgetel het en tóé bo haar kop opgestoot het (clean & jerk).

Nigerië se Rafiatu Lawal was elke keer net ʼn kortkop voor haar – haar groottotaal was 190 kg teenoor die Suid-Afrikaner se 185 kg – maar Spies was beslis binne trefafstand.

Die feit dat sy net 59 kg weeg is ʼn duidelike bewys dat klein botteltjies inderdaad vir groot (en in dié geval swaar) gif kan sorg.

Volgens Spies het haar podiumpad by ʼn CrossFit-gimnasium begin. In ʼn poging om sterker vir dié sport te word, het sy begin om meer aandag aan haar gewigopteltegniek en -vaardighede te skenk.

Druk die versnelknoppie na 2022 en sy het vierde by die Statebondspele in Birmingham geëindig – haar trotsste prestasie nóg.

ʼn Paar medaljes by die Afrika-kampioenskap en haar onlangse sukses in Ghana beteken dat ʼn vliegtuigkaartjie na Parys beslis ʼn topprioriteit is.

Maar wat sal sy eerder verkies: Olimpiese goud of ʼn plek op die podium van die CrossFit-spele?

“Sjoe, ʼn mens hoef glad nie eens daaroor te dink nie. Daar is net ʼn handjievol mense wat die voorreg het om hulself Olimpiese atlete te noem, terwyl die CrossFit-spele ʼn meer haalbare doelwit is. Ek sal dus ongetwyfeld die Olimpiese Spele kies,” het sy aan Maroela Media gesê.

(Foto: Verskaf)

Sy is steeds ʼn gereelde gesig by Eden Fitness en CrossFit Charisma in Mosselbaai. Sy oefen ses dae per week en neem net op Sondae ʼn welverdiende blaaskans.

“Wat gewigoptel betref, vaar ons Suid-Afrikaners nie te sleg nie. Ek dink wel dat die sport nog baie moet groei in die land en hopelik kan dit binnekort ook meer blootstelling op skoolvlak kry.”

Uitstekende tegniek en goeie konsentrasievaardighede is van die belangrikste boustene vir ʼn suksesvolle loopbaan in dié sportsoort.

Tog, soos wat dit maar met enige werk gaan, moet jy ook geniet wat jy doen.

“Ek geniet die snatch die meeste. Dit is ʼn baie vinnige en tegniese beweging wat jy moet baasraak.”

Maar hoe word ʼn mens dan sterker en beter?

“Jy oefen net meer,” is haar blitsige en doodeerlike antwoord.

En Anneke Spies is ongetwyfeld bereid om alles in die stryd te werp om haar land by die Olimpiese Spele te verteenwoordig.

  • Sy kry April in Thailand kans om vir die Spele te kwalifiseer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.