Naelbytstryd in Canberra tussen Blue Bulls en Brumbies

Robbie Coleman van die Brumbies

As daar al ooit ‘n wedstryd is wat by die Bulls gaan spook, is dit vandag se wedstryd teen Jake White se Brumbies.

Die manne van Canberra het met 23-20 geseëvier in ‘n wedstryd waarin ‘n uiters omstrede drie toegeken is en die Bulls se eie swak besluitneming ná die eindfluitjie en met die telling gelykop, hulle duur te staan gekom het.

‘n Saai eerste helfte het meer herinner aan ‘n tenniswedstryd as ‘n kontaksport met die twee spanne wat die bal deurentyd lug gegee het. Albei spanne se verdediging was rotsvas en hulle het konserwatief gespeel om nie enige onnodige foute te begaan nie.

Die Bulls, en veral die stut Morné Mellett, het egter in die skrums gesukkel en het drie strafskoppe afgestaan. Die Brumbies se Christian Lealiifano het eers in die 18de minuut die eerste punte van die wedstryd aangeteken. Morné Steyn het sake kort daarna gelykop met ‘n strafskop gemaak.

Daarna het Lealiifano weer twee strafskoppe deur die pale gejaag om sy span se voorsprong te laat rek.

Kort voor rustyd het die Brumbies se heelagter Robbie Coleman ‘n onwettige beweging uitgevoer nadat hy sowat twee meter voor die doellyn plat geduik is. Hy het nietemin oorgekruip sonder om die bal te los en dit dan weer te speel. Die skeideregter, Jonathan White, het nogtans die drie toegeken en die Brumbies het hul sterte halftyd in die lug gehad.

Die Bulls het met nuwe vuur uit die kleedkamers gekom en ná ‘n paar verwoede aanvalle druk die vleuel Lionel Mapoe maar verloor die bal agter die doellyn. Sy vleuelmaat, Jurgen Visser, het egter hiervoor vergoed toe hy kort daarna twee verdedigers behendig geklop het om te gaan druk. Steyn het die drie verdoel waarna hy met nog ‘n strafskop geslaag het om die telling op 14-13 te staan te bring.

Lealiifano slaag daarna weer met twee strafskoppe waarna die manne van Pretoria hul aanvalle opgeskerp het en JJ Engelbrecht ná praglopie ‘n verdoelde drie gedruk het.

Die Bulls moes daarna bloot die bal hou vir 30 sekondes en uitskop om gelyk op te speel. Hulle besluit toe eerder om met die bal te probeer hardloop en staan weens ‘n oortreding in die losgemaal nog ‘n strafskop af. Lealiifano se geleerde skopskoen het geen fout gemaak nie en die Bulls is darem terug na Suid-Afrika met twee bonuspunte en een wen teen die Blues ná ‘n uitmeregelende toer in Australasië.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.