Petrolbom-nagklub: Eienaar glo die “slagoffer”

Die eienaar van die nagklub, wat Vrydag met ʼn petrolbom in Observatory, Kaapstad, aan die brand gesteek is, het aan die media gesê hy weet nie hoekom sy klub geteiken is nie.

Die nagklub, Barmooda, is op die hoek van Lower Main- en Stasieweg geleë. Dit het Vrydagoggend afgebrand. Twee mans het glo in die vroeë oggendure die skoonmakers beroof, voordat hulle ʼn petrolbom in die gebou ingegooi het.

Reon Heckrath, die eienaar, het aan Cape Times gesê daar word gereeld kwaadwillige gerugte versprei dat sy klub met dwelms en bendes verbind word. Dié gerugte het erger geword ná Vrydag se voorval. “Ek is nie deel van ʼn bende nie. Ek het skool toe gegaan, in ʼn bank gaan werk en toe my klub oopgemaak. Ek het nie tyd om ʼn bendelid te wees nie. Ek is die slagoffer hier, maar niemand gee om nie,” het hy gesê.

Volgens kaptein Frederick van Wyk, ʼn polisiewoordvoerder, word alle gerugte, waaronder brandstigting en rampokkery, ondersoek. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie. Van Wyk doen ʼn beroep op die gemeenskap om met enige inligting na vore te kom. Enigiemand wat inligting oor die voorval het kan Crimestop by 0860 010 111 kontak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.