Nagwaak vir Wiehan Botes en sy dagmoeder

Wiehan saam met sy pa Wiets Botes. Foto: Facebook

Die vyf maande oue Wiehan Botes en sy dagmoeder Magrietha de Goede (66) sal Maandag uit die NG kerk Delmas-Wes begrawe word.

Wiehan se ma, Rita, het op Facebook geskryf: “My engelkind se verassingsdiens is Maandag 11:00 vanuit die Delmas-Wes gemeente in Delmas. Dankie vir ALLES, sonder almal se gebede sal ons nie kan staande bly nie! Moet asb nie ophou bid nie.” Wiehan en De Goede is Dinsdag in ʼn huis in Delmas vermoor. Hulle is albei verwurg. Rita het die plaaslike buurtwag gevra om ondersoek te gaan instel by die huis nadat De Goede nie haar foon geantwoord het nie. Wiehan se lykie is onder ʼn bed in die slaapkamer gevind terwyl De Goede se lyk onder ʼn mat in ʼn buite-stoorkamer gevind is. Die private ondersoeker, Mike Bolhuis, het intussen aan Maroela Media gesê hy is deur Rita en haar man Wiets aangestel om die moord saam met die polisie te ondersoek. Hy sê De Goede se tuinjong is ʼn verdagte in die saak en dat die polisie hom help om die man op te spoor. Bolhuis het ook bevestig dat waardevolle juwele uit die huis gesteel is.

ʼn Nagwaak sal intussen vanaand by De Goede se huis gehou word waar mense hul eerbetoon gaan wys. Mense is op die sosiale netwerke Facebook en Twitter aangemoedig om vanaand om 19:00 by Geldenhuys str 19 met ʼn kers en ʼn blom bymekaar te kom en saam te staan teen misdaad. Verskeie kunstenaars het intussen op Twitter gesê dat hule op 19 Junie aan ʼn vreedsame optog teen geweld in Pretoria sal deelneem. Die sangers Bobby en Karlien van Jaarsveld se ma, Ronel Brink, reël die optog vir Wiehan Botes en ander misdaadslagoffers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.