Nalatige bestuurders moet glo van moord aangekla word

Mense wat nalatig bestuur en noodlottige ongelukke veroorsaak moet en kan van moord aangekla word, het die departement van vervoer Saterdag gesê.

“Ons wil padverbruikers net teen spoed en dronkbestuur waarsku… dit is tyd dat owerhede ʼn zero-toleransie aanslag aanneem,” het woordvoerder Tiyani Rikhotso gesê. “Ons het ʼn gebruik dat mense aangekla en suksesvol vervolg kan word van moord indien nalatigheid bewys kan word,” het hy gesê. Rikhotso het gesê vyf mense is vroeër in die dag op die R153 in Cullinan, oos van Pretoria, oorlede. “Een bestuurder in daardie voorval is van dronkbestuur en strafbare manslag aangekla.”

Die eThekweni munisipaliteit het berig dat hul beamptes 142 dronkbestuurders tussen Donderdag en Vrydag in Durban in hegtenis geneem het, het Rikhotso gesê. Intussen het die provinsiale departement van openbare veiligheid gesê twee voetgangers en ʼn bestuurder is in Noordwes oorlede sedert die aanvang van die naweek.

Ashref Ismail, woordvoerder van die padverkeersbestuurkorporasie sê hul grootste bekommernis nou is motoriste wat die spoedgrens verbreek. Ismail sê verkeersbeamptes in Gauteng het 410 voertuie konfiskeer en 30 mense vir oormatige spoed in hegtenis geneem, waarvan die 245km/h in ʼn 120km/h sone. In die Vrystaat is 120 voertuie konfiskeer. -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.