Namibië kry dalk nog ‘n wêrelderfenisgebied

Namibië se wandelende duine in sy bekende duinesee gaan wêrelderfenisstatus kry as die Internasionale Unie vir Natuurbewaring sy sin kry.

Hoewel sowat 22 plekke in Namibië al in die verlede voorgestel is as wêrelderfenisgebiede, is nog net die Twyfelfontein-rotsgrafure as sodanig aangewys.

Dié duine word saam met nog vier natuurverskynsels elders ter wêreld by Unesco se Wêrelderfeniskomitee aanbeveel.

Die ander natuurverskynsels wat aanbeveel word, is die Mexikaanse biosfeerreservaat El Pinacate en Gran Desierto de Altar, die Xinjiang Tianshan-canyon in China, met onder meer waardevolle gletsers, die Tadzjik Nasionale Park in Tadzjikistan, en berg Etna op die Italiaanse eiland Sisilië. Etna word voorgestel weens sy groot historiese waarde waar spore van vulkaniese uitbarstings tot 500 000 jaar gelede bewaar gebly het.

Die Wêrelderfeniskomitee se vergadering het gister in Phnom Penh, Kambodja begin, en duur nog tot die 27ste.

Instansies het tot 3 Junie kans gehad om natuur- en kulturele wonders vir wêrelderfenisstatus te nomineer. Die kriterium is dat dit wat voorgestel word, van uitstaande universele waarde moet wees, dit moet van wêreldwye belang wees, en moet vir huidige en toekomstige generasies van waarde wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.