Hifikepunye Pohamba, president van Namibië, het Dinsdag sy eerste minister afgedank.
Pohamba het aan joernaliste gesê hy het Nahas Angula, wat bykans agt jaar lank eerste minister was, na die ministerie van verdediging oorgeplaas. Hy word vervang deur Hage Geingob, wat ná ʼn afwesigheid van 10 jaar, in sy pos heraangestel is.
Agt ministers, agt adjunk-ministers en drie van die land se 13 streeksgoewerneurs is ook in die parlementverskuiwings afgedank.
Geingob is tans minister van handel en nywerheid, maar was ʼn paar jaar lank in die “politieke wildernis” nadat oud-president Sam Nujoma hom afgedank het.
President Pohamba se termyn verstryk in 2015 en talle vermoed Geingob gaan dié pos by hom oorneem.