ʼn 31-jarige vrou van Namibië is Maandag by die Kaapstadse Internasionale Lughawe met 1,3 kg kokaïen betrap.
Die vrou, wat in Parklands bly, is omstreeks 11:45 in hegtenis geneem, het luit.kol André Traut, woordvoerder van die polisie, gesê. Die kokaïene het glo ʼn beraamde straatwaarde van R390 000. Die verdagte het op ʼn vlug uit Suid-Amerika in Suid-Afrika geland. Sy het verdag voorgekom en haar bagasie is gevolglik deursoek. Die verbode middels is in die handvatsels van haar bagasie opgespoor. Sy word aangehou tot haar hofverskyning binnekort in Belville. Die polisie sal die saak verder ondersoek.