Nar-eis was geen grappie

Puddles

‘n Nar van Suid-Afrika kan al die pad bank toe lag nadat hy ʼn naamskendingsaak teen die manstydskrif FHM gewen het en R60 000 vergoeding moet kry.

Norman Pudney, oftewel Puddles die nar, is ʼn voltydse kunstenaar en sirkusster wat kinders vermaak, het die Cape Times Donderdag berig.

FHM het in Desember 2007 ʼn berig gepubliseer wat onder meer lugvaartkostes, karwagte en narre veroordeel. Volgens die artikel neem narre “dikwels die gestalte van volwasse mans met ‘n langtermyn tikgewoonte wat soos transvestiete uit die hel geklee is” aan. ʼn Foto van Puddles is as die hooffoto van die artikel gepubliseer. Die tydskrif het die foto as ʼn argieffoto van Masterfile Corporation gebruik en het aangevoer dat die foto gebruik mag word, mits sekere voorwaardes nagekom word.

Die Wes-Kaapse hooggeregshof het beslis dat FHM hul kontrak met Masterfile oortree het deur die foto “doelbewus en kwaadwillig” te gebruik. Pudney se prokureur het gesê die foto op sy eie was nie lasterlik nie, maar dat die inhoud van die artikel wat saam die foto gebruik is, wel lasterlik was. Sy prokureur het gesê mense wat die artikel gelees het, het Pudney herken.

FHM wou geen kommentaar oor die saak lewer nie.

– Sapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.