Narre vas oor ontvoering

Argieffoto

Argieffoto

Twee mans wat as hansworse in Meksiko werk, is in hegtenis geneem in verband met ʼn beweerde ontvoering.

Die twee verdagtes, onderskeidelik 21 en 22 jaar oud, wat as “Pistachon” en “Freski Star” bekend staan, is Dinsdag saam met twee vermeende medepligtiges in hegtenis geneem toe hulle ʼn tweede betaling van die slagoffer se familie wou bekom, het die staatsaanklaer in Michoacan Donderdag in ʼn verklaring gesê.

Die twee verdagtes het glo ʼn jong man op 18 Desember ontvoer toe hulle video- en klanktoerusting by hom wou huur vir ʼn vertoning.

Hulle het omkoopgeld van $7 500 (ongeveer R80 000) geëis, maar ʼn eerste betaling van $1 500 (ongeveer R16 000) van die familie aanvaar en hul gyselaar vrygelaat hangende ʼn tweede betaling van byna $2 000.

Die twee mans, wat glo aan minstens een ander ontvoering verbind word, was nie ten tyde van hul inhegtenisneming in hul hansworspakke nie, het die owerhede gesê.

Alhoewel moorde in Meksiko verlede jaar afgeneem het, het ontvoerings toegeneem. Volgens die land se departement van binnelandse sake was daar 1 583 ontvoerings tussen Januarie en November in vergelyking met 1 317 ontvoerings in 2012. ʼn Opname deur die Nasionale Instituut vir Statistiek het egter bekend gemaak dat daar in 2012 minstens 105 000 ontvoerings plaasgevind het. Ongeveer 118 miljoen mense bly in Meksiko.

Dit is die tweede misdaad die afgelope paar maande in Meksiko waar hansworse betrek word. Francisco Arellano Felix, ʼn voormalige dwelmbaas, is in Oktober by ʼn partytjie by Cabo San Lucas deur ʼn man in ʼn hansworspak doodgeskiet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.