Nasionale Polisiedag: “Mthethwa moet daad by woord voeg en beste kandidate aanstel”

polisie 2Nathi Mthethwa, minister van polisie, se onlangse voorneme om te verseker dat die beste kandidate gekies word om by die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) aan te sluit, word deur regstellende aksie ondermyn, het die vakbond Solidariteit vandag, by die geleentheid van Nasionale Polisiedag, gesê. Die vakbond het ʼn brief aan die minister gerig waarin hy versoek word om duidelik instruksie te gee dat ras nie ʼn rol moet speel by nuwe aanstellings en bevorderings in die SAPD nie.

Dirk Groenewald, hoof van Solidariteit se Sentrum vir Billike Arbeidspraktyke, het Mthethwa se voorneme verwelkom maar is skepties oor of dit in praktyk toegepas sal word. “Uit die SAPD se optrede die afgelope paar jaar is dit is duidelik dat ras alle ander oorwegings soos meriete troef. Van April 2012 tot Maart 2013 het die polisie 1 907 nuwe rekrute aangestel, waarvan 91% swart mense was. Slegs 6,4% (oftewel 122) was bruin mense; 1,2% (oftewel 22) was Indiërs; en 1,4% (oftewel 27) was wit mense. Dit blyk dat swart mense voorkeur geniet en dit skep reeds by die innameproses die indruk dat mense van ander rasgroepe nie in die polisiediens welkom voel nie.”

Groenewald sê die gevoel is geregverdig indien bevorderings in die SAPD in oënskou geneem word. “In 2011, tydens die eerste fase van die nuwe rangstelsel, is ʼn totaal van 3 817 polisiebeamptes, waaronder slegs 356 wit beamptes, na die rang van luitenant bevorder. ʼn Totaal van 812 polisiebeamptes is na die rang van kaptein bevorder, waarvan geen wit beamptes was nie, terwyl ʼn totaal van 513 polisiebeamptes na die rang van majoor bevorder is, waarvan 48 wit beamptes was.” In Maart 2013 het die arbeidshof in Johannesburg alle bevorderings wat ingevolge die tweede fase van die nuwe rangstelsel gemaak sou word, gestop. ʼn Interdik is aan Solidariteit toegestaan nadat die vakbond geargumenteer het dat die bevorderings op rassekwotas neerkom. Minister Mthethwa het in Maart 2012 in die parlement bevestig dat die aantal bevorderings streng volgens rassekwotas toegeken word.

Groenewald sê die polisie se raspraktyke ontmoedig juis die individue wat die minister graag as deel van die SAPD wil hê. “Hoewel daar oorgenoeg geleenthede vir swart mense is om in die polisie uit te blink, oorweeg min bruin, Indiër en wit mense ʼn loopbaan in die polisie aangesien hulle weens die polisie se obsessie met ras van bevorderingsgeleenthede ontneem word.”

Solidariteit het ook in die brief aan die minister daarop gewys dat die polisiediens in geheel reeds die regering se rasseverteenwoordigingsteikens bereik het en dat die huidige aanstellingstendense gaan veroorsaak dat daar later geen bruin, Indiërs of wit mense in die polisie gaan oor wees nie. “Dit is nou die tyd vir die minister om te bevestig dat ras nie bokant meriete geag sal word nie. Deur dít te doen, sal die minister aan bruin, Indiër en wit Suid-Afrikaners toon dat die SAPD werklik die beste werknemers wil hê ondanks hul ras.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

pop ·

My kind het bedank uit die polisie einde van laasjaar. Sy sit nou by die huis. sy het vir jare en jare op sersant gesit, jong swart mense wat n jaar diens gehad het is bevorder oor haar kop. Dit breek enigeen, nogtans het sy gebly, want sy was lief vir die werk. Sy moes instaan vir mense met range bokant hare want van hulle kon nie eers n klagstaat behoorlik invul nie. So weet ek van hope wittes wat goeie beamptes was, hulle is almal vort uit die diens. Ek voorspel nie meer nie, dis n feit, ons polisie mag is in duie, nes elke ander ding in hierdie land.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.