Nasionale reinigingseremonie – Tutu weet niks

Emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu

Emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu se kantoor “is van geen korrespondensie” bewus wat oor ‘n beoogde nasionale reinigingseremonie handel nie.

Pres. Jacob Zuma het kort na die ANC se nasionale kongres in Bloemfontein internasionaal opslae gemaak deur aan te kondig dat hy ‘n nasionale reinigingseremonie beplan “om die morele waardes van die land te herstel” en wat ook gepas sou wees in die lig van die Marikana-tragedie, asook mense dat aangerand en verkrag word.

Hy het voorts opgemerk dat mense wat nie aan die reinigingseremonie deelneem nie “griewe koester”.

Zuma het aangekondig dat hy Tutu gaan nader om die seremonie te lei.

‘n Reinigingseremonie wat as deel van die ANC se eeufeesvieringe aan die begin van verlede jaar in die Rosestad gehou is, het tot groot protes onder Christengroepe gelei. Daar is verskeie spesiale kerkdienste en gebedsbyeenkomste hierteen in die stad gehou.

Dr. Matlole Motshekga, parlementêre ANC-hoofsweep, het destyds aan Volksblad verduidelik dat mense wat daarteen is nie “die geskiedenis van Christenskap en hoe vir dooies gebid kan word,” verstaan nie. Hy het gesê dit geskied deur optredes deur tradisionele geneeshere met die volle samewerking van Nicsa (National Inter-faith Council of South Africa). Nicsa is ‘n intergeloofsgroep wat die ANC verkies as manier om met verskillende geloofsgemeenskappe in gesprek te tree. Die meeste hoofstroomkerke distansieer hulle van Nicsa.

‘n Bees is onder meer op “tradisionele wyse” by die geleentheid geslag.

Tutu was met Zuma se aankondiging oor die beoogde nasionale reinigingseremonie vanjaar met vakansie en was toe nie vir medianavrae bereikbaar nie.

Die Desmond Tutu Vredesentrum het die navraag na Tutu se kantoor verwys, wat laat blyk het dat dit nie van enige sodanige korrespondensie bewus is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.