Nasionale Vergadering voer ‘geheimhoudingswet’ deur

Die omstrede Wetsontwerp op die Beskerming van Staatsinligting is Dinsdagmiddag deur die Nasionale Vergadering in die parlement aanvaar.

229 LP’s het ten gunste van die wetsontwerp gestem, 107 LP’s het daarteen gestem en 2 LP’s het nie gestem nie. Daar is vroeër gevra dat die stemmery uitgestel word. Die IVP, DA, Cope en die OD het gevra dat die stemmery uitgestel word weens openbare teenstand teen die wetsontwerp. Die ANC het die mosie verwerp. Opposisiepartye het beloof om die Konstitusionele hof te nader oor die wetsontwerp. Dit sal nou na die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) verwys word, wat dit kan wysig en waarna dit weer voor die NV moet dien.

Opposisiepartye het hulle sterk uitgespreek teen die wetsontwerp. Die DA se parlementêre leier, Lindiwe Mazibuko, het die wetsontwerp beskryf as ʼn “donker dag vir demokrasie”. Die IVP-LP, Mario Amrosini, het sterk uitgevaar teen die wetsontwerp deur te sê ʼn stem teen jou gewete is ʼn stem teen die land. Die leier van die Vryheidsfront Plus, Dr Pieter Mulder, het gesê Suid-Afrika is besig om agteruit te beweeg in die rigting van Zimbabwe. Cope se leier, Mosiuoa Lekota, het gesê hy sidder om te dink aan die toekoms van joernaliste wat inligting, wat skadelik is vir die land, aan die groot klok wil hang. Die ACDP-LP, Steve Swart, het gesê daar was geen rede vir die ANC om die verweer van openbare belang uit te sluit nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.