Naspers-hoof tree uit

Koos Bekker Foto: ventures-africa.com

Koos Bekker Foto: ventures-africa.com

Naspers het Saterdag Koos Bekker, uitvoerende hoof van Naspers, se uittrede aangekondig.

“Bekker sal deur Bob van Dijk (41), tans Naspers se mees senior bestuurder in e-handel, opgevolg word,” het Ton Vosloo, voorsitter van die maatskappy, in ʼn verklaring gesê. “Bekker (61) sal ʼn jaar lank uit die Naspers-direksie terugtree om Van Dijk die geleentheid te bied om hom as leier te vestig ten opsigte van sowel topbestuur as die direksie.”

Van Dijk neem op 1 April oor.

Volgens Vosloo wil Bekker wyd reis en navorsing doen oor waar die groep se volgende lopie groei vandaan kan kom nádat e-handel volwassenheid bereik het.

Vosloo is van plan om in April 2015 as voorsitter van Naspers uit te tree en Bekker sal hom dan opvolg as voorsitter, aldus die verklaring.

“Vandag is Naspers se markkapitalisasie R500 miljard (VS$45 miljard). Dis die grootste mediagroep buite die VSA of China, groter as enige in Europa.”

“Dit was lekker,” het Bekker gesê, terwyl hy sy waardering teenoor sy kollegas uitgespreek het. “Ek kon nie vir ’n meer interessante lewe gevra het nie. Nou hoop ek om te reis na plekke soos Seoel en San Francisco waar die toekoms gemaak word, en te kyk of daar nuwe tegnologieë is wat ons behoort te toets. Miskien ook ’n paar oddball-plekke beleef. Wanneer Ton uittree, sal ek weer by die raad aansluit, hopelik met ’n paar nuwe idees.”

Van Dijk woon in Nederland met sy vrou Tina, ʼn senior finansiële bestuurder, en twee jong dogters. Hy is ’n ywerige sportman en praat vyf tale. “Naspers is ’n uitstekende maatskappy en ek voel geëerd om so ’n bekwame span te lei,” sê hy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.