NDBV ondersoek vispedikure

NDBV is nie net bekommerd oor die gesondheid van visse wat in die Garra Rufa-pedikuur gebruik word nie, maar glo dit kan ook ʼn gesondheidsrisiko vir mense met 'n verlaagde immuunstelsel inhou. Foto: cubeme.com

Die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV) het die departement van gesondheid gevra om die gesondheidsrisiko van ʼn vispedikuur te ondersoek.

Dit volg nadat die NDBV self ook ʼn ondersoek van stapel gestuur waarin hulle die welstand van visse geondersoek het, wat gebruik word om tydens ʼn pedikuur die dooie velle van ʼn persoon se voete af te vreet.

Die NDBV het Donderdag in ʼn brief aan die minister van gesondheid, Aaron Motsoaledi, en al die provinsiale LURs hulle kommer uitgespreek oor die gebruik van Garra Rufa of ‘dokter’ visse in gesondheidspa’s. Hulle is nie net bekommerd oor die visse se gesondheid nie maar glo die behandeling kan sleg wees vir ʼn persoon met ʼn verlaagde immuunstelsel, veral omdat dieselfde visse en water vir elke behandeling gebruik word.

ʼn Woordvoerder vir dié departement, Fidel Hadebe, het gesê hulle het nog nie die brief ontvang nie en is ook nie bewus van die soort pedikure of die gesondheidsrisiko daarvan nie.

Volgens die NDBV is dié pedikure reeds in 14 state in Amerika verban en sal die praktyk ook binnekort in Brittanje stopgesit word. Plaaslik is daar reeds twee klagte teen vispedikure na die NDBV verwys. – Sapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.