Ndebele: ‘Motoris wat drawwers doodry moet van moord aangekla word’

Die minister van vervoer, Sbu Ndebele. Foto: GCIS

Die minister van vervoer, Sbu Ndebele, sê die beweerde dronkbestuurder wat glo Saterdagoggend vyf drawwers doodgery het moet van moord aangekla word.

Ndebele sê volgens ooggetuies was die bestuurder dronk toe hy in die vier vroue en een man ingeploeg het. Nog ʼn persoon is ernstig beseer. Die bestuurder sal na verwagting Maandag in die hof verskyn. Daar is die naweek berig dat die motoris glo van die toneel probeer vlug het nadat hy Moroesi Mokoatsi (34), Reneilwe Lesenyeho (31), Gaolojwe Isaac Tlale (37), Nomvula Dumako (35) en Given Mills (30) doodgery het. Die oorledenes het glo in gelid agter mekaar gedraf toe die bestuurder, glo ʼn 43-jarige meganiese ingenieur van Midrand, in die groep ingeploeg het. Die bestuurder het glo hierna probeer weghardloop maar is deur omstanders gekeer. Hy is deur die metropolisie in hegtenis geneem. Die atlete het glo vir die Soweto-marathon geoefen wat volgende maand plaasvind. Die voorval het omstreeks 6:15 Saterdagoggend in Leverweg plaasgevind.

Ndebele het benadruk dat motoriste wat verkeersreëls verontagsaam vir hulle dade aanspreeklik gehou sal word. Hy sê 57 dronkbestuurders is die naweek in die Oos-Kaap in hegtenis geneem terwyl 29 in die Wes-Kaap in hegtenis geneem is. Die president van die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (Sascoc), Gideon Sam, het intussen gesê die organisasie rou oor die dood van die vyf atlete. Hy het ʼn beroep gedoen op vervoerowerhede om alles in hulle vermoë te doen om die probleem aan te spreek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.